SENDINGINSTITUUT, WELLINGTON

SENDINGINSTITUUT, WELLINGTON. Die herlewingsbeweging van die 1860’s lei tot ’n nuwe golf van sending*belangstelling en ’n behoefte aan beter opgeleide sendelinge*. Op inisiatief van dr Andrew Murray*2 van Wellington word in 1876 met ’n opleidingskool begin wat later bekend sou staan as die Sendinginstituut. Dit is mettertyd deur die Kaapse sinode* oorgeneem. Die eerste voltydse dosent, eerw GR Ferguson van die VSA, kom in 1877 na die instituut, gevolg deur eerw JC Pauw* in 1879 wat vir 35 jaar daar doseer het. ’n Nuwe gebou, bekend as “Samuel”, is in 1883 betrek. Aanvanklik is ook sendingonderwysers opgelei, maar mettertyd is al meer gefokus op die opleiding van geordende* sendelinge – van die Stellenbosse afgestudeerde proponente/dominees onderskei met die titel “eerwaarde”. Die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk* het in 1962 hierdie onderskeid opgehef. In dieselfde jaar sluit die Sendinginstituut finaal en die opleiding van sendelinge is sedertdien die verantwoordelikheid van die kerk se teologiese inrigtings. Die altesame 566 sendelinge wat in die loop van 85 jaar by die Sendinginstituut gelegitimeer* is, het diep spore getrap op die gebied van binnelandse sowel as buitelandse sending, waar mettertyd ’n groot aantal kerke van die NG Kerkfamilie* tot stand gekom het.

Vir verdere lees: A Dreyer 1927. Kruisgesante in Suid-Afrika. Kaapstad: Nasionale Pers.

 

Sidebar