SENDINGKONFERENSIES, INTERNASIONALE

SENDINGKONFERENSIES, INTERNASIONALE. In 1806 het William Carey* voorgestel dat daar elke tien jaar ’n sendingkonferensie van “all denominations of Christians” gehou moet word, beginnende in 1810 in Kaapstad. Eers in 1910 het hierdie droom werklikheid begin word met ’n internasionale sendingkonferensie in Edinburgh, Skotland. Dit was nie wyd verteenwoordigend nie, maar het ’n proses aan die gang gesit wat gelei het tot die stigting van die Internasionale Sendingraad (ISR)* in 1921. Die ISR het gereelde ekumeniese* sendingkonferensies byeengeroep. Die triomfalistiese toonaard van Edinburgh, met sy klem op die uitbreiding van die Christelike beskawing en “the evangelisation of the world in this generation”, is getemper by Jerusalem (1928), wat gekenmerk is deur ’n diakonale spiritualiteit en ’n omvattende sendingbenadering. By Tambaram (1938) was die klem op eskatologie* en Christengetuienis in ’n wêreld van kompeterende godsdienste en ideologieë*. Ná die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog* was Whitby (1947) meer introspektief, met ’n klem op koinonia* en ’n eskatologiese houding wat gerig is op die komende ryk van God. Willingen (1952) het bekend geword vir sy klem op sending as missio Dei*, die sending van die drie-enige* God. Die laaste konferensie van die ISR is in 1958 in Achimota (Ghana) gehou, waar voorbereidings getref is vir die integrering van die ISR by die Wêreldraad van Kerke (WRK)* in 1961. Die afdeling vir wêreldsending en -evangelisasie van die WRK het voortgegaan met die reël van ekumeniese sendingkonferensies by Bangkok (1973), Melbourne (1980), San Antonio (1989), Salvador de Bahia (1996), Athene (2005) en Edinburgh (2010).

 

Sidebar