SENDINGMETODES

SENDINGMETODES. Die aard en omvang van die kerk* se sending*taak in die wêreld word saamgevat deur die Bybelse* begrip “getuienis*” (marturia). Verder word die sendingarbeid van die kerk deur die getroue gebed* van gelowiges gedra (vgl Ps 67:4-5; Hand 13:1-3; Ef 6:18-20; Kol 4:2-4; 2 Tess 3:1-2; 1 Tim 2:1-8). Hierdie getuienis omvat die volgende “hoofmetodes”:

  1. Getuienis deur evangelie*verkondiging (kerugma) vind op talle maniere plaas: prediking*; massa-evangelisasieveldtogte; kruiskulturele kommunikasie; Bybelvertaling* en -verspreiding; Christelike literatuurproduksie en -verspreiding; evangelisasie*-skepe; geletterdheidsprojekte; die aanwending van media soos films, radio, televisie en die internet; huis tot huis-evangelisasie; werk onder jongmense en studente, vriendskapsevangeliasie; dialoog met aanhangers van ander godsdienste, ens.
  2. Getuienis deur liefdesdiens (diakonia) neem ook talle vorms aan: mediese werk; onderwys; gevangenispastoraat; gemeenskapsontwikkeling; armoedebekamping; stedelike, industriële en landelike pastoraat; aksies ter wille van sosiale en politieke geregtigheid*; aandag aan ekologiese probleme (Kyk by: Ekologie en godsdiens), ens.
  3. Getuienis deur kerkplanting en die opbou van die gemeenskap van die gelowiges (koinonia) is van ewe groot belang: kerkplanting; bemagtiging en opbou van die gemeente*; pogings om samewerking en kerkeenheid te bevorder; die vestiging van ’n “Christelike teenwoordigheid” in die wêreld, ens.

Al hierdie aktiwiteite (kerugma, diakonia, koinonia) onderneem die kerk as sy offer van dankbaarheid (leitourgia) teenoor die Here*.

 

Sidebar