SENDINGOPLEIDING

SENDINGOPLEIDING. Oplewing in sending*belangstelling in Kaapse gemeentes teen die laat-18de eeu het tot gevolg gehad dat al hoe meer mense hulle vir sendingdiens aangemeld het. Formele sendingopleiding begin egter eers in 1877 toe wat later as die Sendinginstituut* bekend sou word, op Wellington begin het. By die Friedenheim-kollege, Wellington, is opleiding verskaf aan dames wat hulle vir sendingdiens wou aanbied. Aan die Teologiese Kweekskool* op Stellenbosch begin prof J du Plessis* vanaf 1916 om sendingwetenskap* te doseer. Hierdie vakgebied kom tot sy reg as volwaardige teologiese dissipline met die aanstelling van prof WJ van der Merwe* as eerste voltydse professor in sendingwetenskap by die Kweekskool. Sendingdepartemente het ook aan die teologiese fakulteite van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat tot stand gekom. Daadwerklike aandag is gegee aan die toerusting van evangeliedienaars met die oog op kruiskulturele of missionêre bedienings.

Gedurende die tweede helfte van die 20ste eeu groei die tendens sterker dat sendingopleiding by interkerklike inrigtings in Suid-Afrika aangebied word. Daar word op allerlei fasette van missionêre opleiding of toerusting gefokus. Dit sluit in, benewens die Hugenote Kollege* asook die Hugenote-Bybelinstituut op Wellington, inrigtings soos die Bible Institute of South Africa, Petra-kollege, Africa School of Mission, Cornerstone Christian College en Africa Entrerprise. Die Toerustingsburo vir Interkulturele Werkers (TIW) op Wellington is ’n onderneming van die NG Kerkfamilie*.

 

Sidebar