SENDINGORDES

SENDINGORDES. Godsdienstige ordes* binne die Katolieke Kerk* speel ’n groot rol in die lewe en bediening van hierdie kerk. Hoewel alle ordes ingestel is op die uitbou van die Katolisisme, is sommige meer gerig op sending*. Verskeie bekende sendingordes kom teen die einde van die Middeleeue tot stand en speel ná die ontdekking van die “nuwe wêreld” teen die einde van die 15de eeu ’n belangrike rol. Hieronder tel die Fransiskane (1209), Dominikane* (1216), Augustiniane (1256) en later veral die ietwat omstrede Jesuïete-orde (Society of Jesus – 1540). Van die bekendste sendelinge* in die 17de en 18de eeu was Jesuïte, ook in Afrika. In Afrika, ook in Suid-Afrika, speel die Witte Vaders, die Mariste en Marianiste ’n belangrike rol. Ander ordes wat in Suid-Afrika bekendheid verwerf het, sluit in die Benediktyne, Kapussyne (Capuchins), Karmeliete, Dominikane, Comboni-sendelinge en Jesuïete. Die bekende Mariannhill met sy klooster naby Pinetown in kwaZulu-Natal is gestig deur die Trappiste. Verskeie ordes werk agtereenvolgens te Pella in Namakwaland, voorheen ’n stasie van die Londense en Rynse Sendinggenootskappe*.

Ordes kom ook in die Ortodokse en Anglikaanse* tradisies voor. Die enkeles wat in Suid-Afrika bestaan, is nie spesifiek gerig op sending nie.

 

Sidebar