SENDINGVELDTOGTE (EVANGELISERINGSVELDTOGTE)

SENDINGVELDTOGTE (EVANGELISERINGSVELDTOGTE) is die openbare verkondiging van die evangelie* aan soveel vrywillige hoorders as wat op ’n keer byeengebring kan word. Sommige beskou die apostel Petrus* se Pinkstertoespraak as die historiese begin van sending- of evangeliseringsveldtogte. Bekende evangeliseringspredikers is onder andere die Wesley*-broers en George Whitefield* (18de eeu), Dwight L Moody* en Charles Spurgeon* (19de eeu), en Billy Graham* en Luis Palau (20ste eeu). In Suid-Afrika het talle evangeliseringspredikers – onder andere Nicholas Bhengu* en Michael Cassidy* – skares met die evangelie bedien. Groot sendingveldtogte is steeds wêreldwyd ’n gewilde evangeliseringsmetode om veral ongekerstende menigtes te bereik. Evangeliseringsveldtogte het vanselfsprekende voordele. Groot skares word getrek en mense word aangemoedig om ’n geloofs*beslissing te maak. Daar is egter ook slaggate wat vermy moet word: Oormatige publisiteit en die beklemtoning van persoonlikhede, emosie en oppervlakkigheid by die aanbieding van die evangelie* wat daartoe mag lei dat bekeerlinge terugval na hulle vorige leefwyse, gebrek aan infrastruktuur vir opvolgaksies en gebrekkige inskakeling van nuwe bekeerlinge in gemeentes*. Volgens baie sendingkundiges word die beste resultate bereik wanneer groot veldtogte met persoonlike evangeliseringsgesprekke gekombineer word.

Vir verdere lees: JJ Kritzinger, PGJ Meiring en WA Saayman 1994. On Being Witnesses. Halfweghuis: Orion.

 

Sidebar