SENTRUM VIR CHRISTELIKE SPIRITUALITEIT/CENTRE OF CHRISTIAN SPIRITUALITY

SENTRUM VIR CHRISTELIKE SPIRITUALITEIT/CENTRE OF CHRISTIAN SPIRITUALITYhet in 1987 onder leiding van dr Desmond Tutu*, toe die Anglikaanse* aartsbiskop van Kaapstad, tot stand gekom. Onder vader Francis Cull, jare lank Tutu se persoonlike geestelike begeleier, het die sentrum vinnig gegroei en gevestig geraak as ’n toevlugsoord van heling vir baie predikante* en ander gelowiges. Die sentrum, met sy Anglikaanse oorsprong, het mettertyd meer ekumenies* en multikultureel geword. In 2015 was dit ’n informele gemeenskap wat ’n wye verskeidenheid mense bedien en verskillende Christelike tradisies verteenwoordig. Die sentrum wil ’n dieper bewussyn van God, ’n mens se verhouding tot jouself, ander mense, die gemeenskap waarvan jy deel is, en die aarde, bemiddel. Die ou Christelike tradisies van meditasie*, kontemplatiewe gebed* en stilte word hier herwin. Die sentrum reël retraites* en geestelike begeleiding vir belangstellendes, en bied ’n basiese kursus in kontemplatiewe spiritualiteit* aan. Dit bevorder ’n holistiese spiritualiteit wat van die wetenskap en kunste wil leer, maar ook die bevordering van sosiale geregtigheid* in gedagte hou. Die sentrum, met sy kantore in Bellville, publiseer van tyd tot tyd boeke oor Christelike spiritualiteit in samewerking met uitgewers. In 2017 is ‘n pragboek,“Silence and Solidarity – Celebrating 30 years of the Centre for Christian Spirituality”, deur Barnabas-uitgewers vir die sentrum gepubliseer. Van 2005 tot 2017 was dr Carel Anthonissen* die eerste nie-Anglikaan wat as direkteur van die sentrum gedien het. Vader Edwin Arrison was in 2018 voorsitter van die sentrum se raad.

 

Sidebar