SEPTUAGINTA

SEPTUAGINTA is die Latynse woord vir sewentig. Daarom is die Septuaginta ook bekend as die LXX – die Romeinse syfers vir sewentig. “Sewentig” het betrekking op die verhaal wat oor die ontstaan van die Griekse* vertaling van die Pentateug* vertel word. Volgens die Aristeas-boek is die Pentateug in Aleksandrië* in Egipte* vertaal deur 72 kundige vertalers – Jode* uit Jerusalem*. Ná sewentig dae het almal se vertalings presies ooreengestem, word beweer – ’n bewys dat hierdie vertaling aanvaar moes word. Die Jode wat in Aleksandrië geleef het, kon nie meer Hebreeus* verstaan nie en die Bybel* moes dus in Grieks vertaal word.

Die LXX het ’n komplekse ontstaans- en oorleweringsgeskiedenis. Die beskrywing “Septuaginta” het aanvanklik slegs op die Pentateug betrekking gehad. Hiervoor geld die beskrywing Oud-Griekse teks. Daar bestaan ook boeke wat nie op ’n Hebreeuse grondteks berus nie, soos die Wysheid van Jesus Sirag*.

Aanvanklik het die LXX as gesaghebbende Skrif vir Joodse gemeenskappe gedien, maar later is dit deur die Christelike gemeenskap oorgeneem en was dit ook die Skrif vir die Nuwe-Testamentiese* skrywers. As gevolg van die verskille tussen die oorspronklike vertaling en bestaande Hebreeuse tekste, het dit later allerlei resensies ondergaan (“resensie” is hier die tegniese term vir die verwerkings van die verskille wat daar tussen die Septuaginta-tekste en Hebreeuse tekste bestaan het in ’n poging om die verskille uit die weg te ruim en die tekste te harmonieer.) Joodse resensies is dié van Akwila, Simmagus en Teodosion, terwyl Origines* se heksapla die belangrikste Christelike resensie bevat het. In die proses van oorlewering het die oorspronklike Oud-Griekse teks verlore gegaan en moet dit nou gerekonstrueer word uit verskillende manuskripte.

Om die Septuaginta op ’n aanvaarbare manier te interpreteer, moet bepaalde metodiese riglyne gevolg word. Die LXX is deur verskillende vertalers in uiteenlopende tye en kontekste vertaal. Die Pentateug het in Aleksandrië ontstaan, terwyl boeke soos Spreuke*, LXX-Ester* en Kohelet (Prediker*) in Palestina* vertaal is. Hierdie diversiteit van vertalers, kontekste en tekste moet verreken word wanneer probeer word om die LXX te verstaan. ’n Verdere faktor wat onontbeerlik is vir die interpretasie, is dat die vertalingstegniek van ’n bepaalde boek vooraf vasgestel moet word. Elke vertaler het op ’n unieke manier met sy grondteks omgegaan. Elke boek in die LXX moet dus afsonderlik as entiteit benader word. Die boek Genesis* is relatief letterlik vertaal, terwyl Spreuke* weer besonder vry vertaal is. Verder kan die Oud-Griekse teks beskou word as die eerste eksegetiese (Kyk by: Eksegese) kommentaar op die Hebreeuse Bybel. Sommige geleerdes vind in LXX-Genesis getuienis van Platoniese skeppingsperspektiewe. Gen 1:2 praat van die aarde wat “woes en leeg” was. Dit word in die LXX vertaal met “ongevorm en onsigbaar”. Op die oog af lyk dit Platonies – in sy geheel beskou, is dit egter nie die geval nie. Geleerdes het in die verlede veral stoïsynse (Kyk by: Stoïsisme) en Platoniese invloede in LXX-Spreuke gevind. Hierdie boek is egter deur ’n konserwatiewe Joodse vertaler vertaal wat inderdaad anti-Hellenisties* was in sy interpretasies. Dit is dus ook moontlik om van die “teologie van die Septuaginta” te praat, mits die kwessie metodies korrek benader word. Aangesien die LXX nie lank ná die ontstaan van die Hebreeuse Bybel vertaal is nie, kan dit verhelderende perspektiewe open ten opsigte daarvan. Die Septuaginta is ook waardevol vir die verstaan van die Nuwe Testament. Dit is belangrik om te weet dat die Nuwe-Testamentiese skrywers hulle aanhalings van die Ou Testament* uit die Septuaginta gemaak het.

Vir verdere lees: J Cook 2005. “Die Septuaginta – aliquid novi ex Africa (iets nuuts uit Afrika*”) in: Tydskrif vir Geesteswetenskappe 45/4, 457-465. GJ Steyn 1989. “Die ou Griekse vertaling (Septuagint): Deel 1. ’n Kort oorsig oor die moontlike ontstaansgeskiedenis” in: Theologia Evangelica 22(2), 9-18. GJ Steyn 1989. “Die ou Griekse vertaling (Septuagint): Deel 2. ’n Kort oorsig oor die ontwikkelingsgeskiedenis en bestaande teksteorieë” in: Theologia Evangelica 22(3), 2-13.

 

Sidebar