SERFONTEIN, WILLEM JACOBUS BENJAMIN (WILLIE)

SERFONTEIN, WILLEM JACOBUS BENJAMIN (WILLIE) (1925–1983) het in ’n musikale huis grootgeword – een van sy broers was die later bekende sanger, Jozua. Hy het aan die Stellenbosse Teologiese Kweekskool* studeer en ook op Stellenbosch sy MA behaal. Hy studeer daarna in Nederland met ’n sangbeurs en behaal ’n doktorsgraad met ’n proefskrif oor die Psalm as kerklied. Hy word in 1957 gelegitimeer en na die NG Kerk*-gemeente Kimberley-Noord beroep, waarna hy leraar was op Richmond (1961), George-Suid (1966) en Stellenbosch (1970). Sedert 1962 dien Serfontein as skriba van die algemene kommissie vir die erediens*. Hy het ’n reuse bydrae tot die verwerking en publikasie van die nuwe Psalm- en Gesangboek, wat in 1978 verskyn het, gelewer. Hy was as voorsitter van die hersieningskommissie die groot dryfkrag agter die nuwe bundel wat sowel musikaal as literêr ’n aansienlike verbetering op sy 1944-voorganger was. Lied 380 in die latere Liedboek van die kerk is deur hom omdig, en Lied 155 deur hom en Willie Jonker*. Saam met sy gesin het hy opnames van die meeste Psalms en Gesange gemaak wat etlike jare in die radioprogram “Laat ons boeke vat” gebruik is.

Serfontein het in 1983 vanweë swak gesondheid sy emeritaat aanvaar en is ’n paar maande later oorlede. Hy is in 1952 met ’n studentemaat uit Namibië, Ottilie Uhlenbruch, in die huwelik bevestig waaruit sewe kinders gebore is.

 

Sidebar