Serubbabel

Serubbabel was een van die leidende figure onder die ballinge wat uit Babel* teruggekeer het toe Kores* die Jode* in 539 vC toestemming gegee het om na hulle eie land terug te keer en die tempel*2 te herbou (Esra 2:2). Hy word die seun van Sealtiël genoem (alhoewel 1 Kron 3:19 hom ’n kind van Pedaja, die broer van Sealtiël noem). Hy was dus ’n kleinseun van koning Jojagin*, die tweedelaaste koning van Juda*4. Volgens Esra 3 het hy ook leiding geneem met die poging om dadelik die tempel te herbou, maar in Esra 5:14-16 word Sesbassar* genoem as die leier van hierdie eerste poging. Hy het egter wel in 520 vC, onder aansporing van die profete Haggai* en Sagaria* saam met die hoëpriester* Jesua, die leiding geneem in die volgende poging om die tempel te herstel. In hierdie tyd staan hy bekend as die goewerneur van Juda*, wat daarop dui dat hy deur die Persiese owerheid met ’n sekere mate van gesag beklee is (’n strategie wat nie ongewoon vir die Perse* was nie). In Hag 2:20-23 spreek Haggai ’n profesie uit waarin Serubbabel ’n besondere plek inneem as God se dienaar*. God sê deur Haggai dat hy Serubbabel ’n “seëlring” sal maak. Hierdeur word die profesie van oordeel oor sy oupa Jojagin in Jer 22:24 omgekeer, waar Jojagin as seëlring van God se hand afgeruk word. Wat verder van Serubbabel geword het, is onbekend. Hy was egter ’n belangrike skakel in die beloftes van herstel van die volk ná die ballingskap*. (Kyk ook: Sesbassar.)

 

Sidebar