SERVET, MIGUEL

SERVET, MIGUEL (1511–1553) is in Spanje gebore. In Frankryk het hy die skuilnaam Michel de Villeneuve (sy geboortedorp) gebruik. Sy voorouers was van Spaans/Portugese en Joodse* oorsprong. Toe hy 15 jaar oud was, het hy by ’n Franciskaanse monnik* gaan werk wat ’n volgeling van Erasmus* was. Omdat hy Latyn, Grieks* en Hebreeus* vlot kon lees, het hy die Bybel* in die oorspronklike tale gelees. In 1526 is hy na die universiteit van Toulouse met die oog op ’n graad in die regte. Terwyl hy daar was, is hy daarvan verdink dat hy geheime byeenkomste van die Protestante* bygewoon het. Ná sy studie het hy deur Duitsland en Italië gereis. Gedurende 1530/1531 het hy ’n tydjie in Straatsburg deurgebring waar hy onder meer vir Martin Bucer* ontmoet het. In dié tyd publiseer hy sy De trinitatis erroribus (“Oor die wanopvattings oor die Drie-Eenheid*”) waarin hy probeer aantoon dat Jesus* nie die ewige Seun* van God is soos deur die Konsilie van Nisea* geformuleer nie. Hy het die Drie-eenheid ’n driekoppige monster genoem. Hy het ook die erfsonde*, die kinderdoop* en die vryspraak* deur die geloof teengestaan. Servet het gehoop dat die ontkenning van die Drie-eenheid die Christelike geloof meer aanvaarbaar vir die Judaïsme* en Islam* sou maak.

In 1536 het Servet in Parys vir ’n mediese graad ingeskryf. Later het hy die persoonlike arts van aartsbiskop Palmier van Wenen geword. Hy is daarvoor bekend dat hy die eerste persoon is wat die sirkulasie van bloed deur die longe beskryf het. Servet het ernstig met Johannes Calvyn* gebots. Sy Christianismi Restitutio (“Herstel van die Christendom”) is ’n duidelike teenhanger van Calvyn se Institusie.

Uiteindelik is Servet in hegtenis geneem, veroordeel en verbrand – ten spyte van Calvyn se teenstand teen die voltrekking van dié straf. Miguel Servet word vandag nog altyd deur Unitariërs* hoog geag.

 

Sidebar