SESAREA

SESAREA was ’n hawestad aan die Middelandse See-kus van Palestina* in die provinsie Samaria* (Kyk by: Romeinse Ryk), gebou deur Herodes*1 die Grote. Dit was 37 km suid van die berg Karmel* en vernoem na die Romeinse keiser Augustus* (die klankooreenkoms tussen “Sesarea” en “Caesar*”, ofte wel keiser, is duidelik). Sesarea was die setel van die Herodes-konings sowel as van die Romeinse prokurators. Hulle het gewoonlik heen en weer beweeg tussen Sesarea en die paleis in Jerusalem*. Die Romeinse garnisoen vir Palestina was ook daar gestasioneer.

In die stad was ’n reuse tempel* ter ere van die keiser, met groot standbeelde van hom, asook ’n amfiteater wat vandag nog gesien kan word. Sesarea was geleë op die handelsroete tussen Tirus* (in die noorde) en Egipte* (in die suide) en dit was ook ’n bedrywige handelsentrum vir binnelandse handel. Paulus* is ná sy gevangeneming in Jerusalem* (Hand 21) oorgeplaas na Sesarea (Hand 23) waar hy voor Feliks*, Festus* en Herodes*5 Agrippa verskyn het (Hand 24–26). Sesarea was later ook die basis waar Paulus ná sy sendingreise geland het op pad na Jerusalem. Petrus* het daar tot nuwe insigte gekom oor die universaliteit van die evangelie* (Hand 10). Filippus*, die diaken, het ook daar gewoon en waarskynlik die stad geëvangeliseer (Hand 21:8).

Sesarea was een van die sentra waar die Christendom* in die eerste paar eeue nC gedy het en die kerkvader Origenes* is in die derde eeu daarheen. Daar het ook ’n eie tekstipe van die Nuwe Testament* ontwikkel wat as die Sesareaanse teks (Kyk by: Bybel, skryfgoed) bekend staan.

 

Sidebar