SEUN, GOD DIE

SEUN, GOD DIE. Daar word nie minder nie as 46 keer in die Nuwe Testament* na Jesus* as die Seun van God verwys. Merkwaardig is die aanvangswoorde van die Markus*-Evangelie: “Die evangelie van Jesus Christus*, die Seun van God, begin só: …” (Mark 1:1). Hy is van nature die ewige Seun van God. Daarom praat ons van die preëksistensie of vooraf-bestaan van Christus*: daar was dus nooit ’n tyd toe Hy nog nie die Seun van God was nie. Maar as die vleesgeworde Woord was die Seun onder die mense ook ampshalwe die verteenwoordiger van God. Jesus het nie maar deur sy verdienste of by sy doop deur Johannes*1 die Seun van God geword, soos sommige teoloë in die geskiedenis van die kerk* wou hê nie. Hierdie dwaling staan bekend as die adopsianisme, wat reeds in die Vroeë Kerk* voorgestaan is deur die bekende ketter Arius* met sy uitspraak “daar was ’n tyd toe Hy nie was nie”.

In die teologie* word die uitdrukking “deur die ewige generasie” soms gebruik om die verhouding tussen Vader* en Seun te beskryf. God bestaan in alle ewigheid* gelyktydig as die Vader en die Seun en die Heilige Gees, sonder dat een van hierdie bestaanswyses hoër of laer as die ander is. In Joh 1 word sy ewige bestaan ook aangedui met die term die Woord* wat reeds aan die begin by God was en self ook God is. In die 1980’s het ’n lewendige debat oor Jesus se Godheid ontstaan in ’n groep wat bekend geword het as die “Jesus Seminar”* en wat Jesus se Godheid loën (Kyk by: Jesus, Historiese).

 

 

Sidebar