SEUN VAN DIE MENS

SEUN VAN DIE MENS. Die verwysing na Jesus* as “Seun van die mens” kom 82 keer in die Nuwe Testament* voor. Dit kan wel ’n aanduiding daarvan wees dat Hy, die Seun* van God, ook ware mens was net soos ons almal. In die Aramese* taal wat in sy tyd deur die volgelinge van Jesus gepraat is, was dit ’n algemene gebruik om van “die seun van” te praat as jy iemand van ’n bepaalde groep wou aandui. Verwysing na Jesus as die Seun van die mens, kan dus benadruk dat Hy werklik ’n mens tussen die mense was. Aan die anderkant is daar die klaarblyklike verwysing na Dan 7:13 (“iemand soos ’n menslike wese”; 1933/1953-Afrikaanse Vertaling: “die Seun van ’n mens”) by Jesus se verskyning voor die Joodse Raad (Mark 14:62), wat eerder dui op ’n hoë posisie of eretitel; daarom ook die verontwaardiging van die Joodse Raad dat Jesus dié titel op Homself van toepassing gemaak het. Dit is betekenisvol dat hierdie naam juis dikwels gebruik word waar verwys word na Jesus se lyding en sterwe, maar ook na sy verheerliking aan die regterhand van God.

 

Sidebar