SHAKA

SHAKA (circa 1787–1828) word as die bouer van die Zoeloe*-volk beskou – hoofsaaklik vanweë die samesmelting van sy eie en die Nguni-stamme. Hy was ’n uitmuntende militêre strateeg en het gevolglik as die swart Napoleon bekend geword. Shaka was ’n despoot wie se skrikbewind aanvanklik beskou is as die enigste oorsaak van die Mfecane* of Difaqane tussen 1818 en 1835. Dit het voortgevloei uit ekonomiese, ekologiese en demografiese veranderings in die laat-18de-eeuse Natal, asook verwikkelings binne die politieke, sosiale en militêre strukture van die Nguni. Die kulminasie hiervan was die magsoorname van Shaka en die totstandkoming van die Zoeloe-volk. Hy het by die prominente Dingiswayo van die Mthethwa en Zwide van die Ndwandwe die waarde geleer van ’n gedissiplineerde permanente weermag en die amabutho-stelsel waarvolgens jong mans in regimente volgens hulle ouderdom gegroepeer is.

Toe Shaka in 1816 leier van die Zoeloes geword het, het hy met radikale hervormings die militêre stelsel ontwikkel. Dit het nuwe wapens soos korter werpspiese ingesluit, asook die skepping van die oskop-aanvalsformasie. Met ’n geskatte staande mag van 20 000 man wat in regimente verdeel is, het hy ’n despotiese bewind in Natal opgebou waartydens duisende stamlede hulle lewe verloor het – en nog meer wat as vlugtelinge ’n pad van verwoesting agtergelaat het. Dit het gebeur met die intensifisering van die Mfecane, wat letterlik beteken “om te vergruis”. As outokratiese heerser het Shaka alle onderhoriges gedwing om die kulturele gebruike en taal van die Zoeloes te aanvaar. Arbitrêre teregstellings het gereeld plaasgevind en soldate is slegs toegelaat om te trou ná hulle ontslag op veertigjarige ouderdom uit die leër. Teen 1828 het Shaka se tirannie sy tol geëis en is hy deur sy halfbroer Dingane* vermoor.

Terwyl die Zoeloes Shaka as volksheld onthou en eer, en hulle hom in die proses romantiseer en bakens na hom vernoem (soos die Shaka-internasionale lughawe buite Durban) – en hy inderdaad baie gedoen het om volkstrots by die Zoeloes op te wek en dissipline by hulle tuis te bring – kan dit, as na die geskiedkundige feite gekyk word, nie ontken word dat hy op stuk van sake ’n tiran was wat ’n bloedspoor agtergelaat het nie.

Vir verdere lees: JS Bergh 1984. Stamme en ryke. Erfenisreeks: die 19de eeu. Kaapstad: Don Nelson. R Edgecombe 1986. “The Mfecane or Difaqane” in: T Cameron en SB Spies (red), An Illustrated History of South Africa. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.

 

Sidebar