SHAND, ROBERT

SHAND, ROBERT (1803–1876). Die Roodezand-gemeente (later Tulbagh) wat in Oktober 1743 tot stand gekom het, is ’n eeu later deur ’n onverkwiklike kerkskeuring getref.

Die stigting (en afstigting) in Januarie 1843 van die plaaslike gemeente* Kruisvallei was die kulminasie van ’n stryd van agt jaar oor die onversetlike bedieningspatroon van die vroom maar taktlose en puriteinse* Skot, ds Robert Shand. Hy het reeds met sy intreepreek in November 1835 in Tulbagh kontroversieel opgetree toe hy aangedui het dat hy nie deur die plaaslike gemeente aangestel is nie, maar deur die owerheid. Die Kaapse Kerk* was destyds nog in ’n ondergeskikte posisie teenoor die staat* wat predikante* se stipendiums betaal het. Shand het tydens sy dienstermyn geweier om kinders te doop* wie se ouers volgens hom nie bekeerd (Kyk by: Bekering) was nie; die nagmaal* is ook nie aan gemeentelede bedien wat nie in ’n “godsalige lewe wandel” nie; huweliksbevestiging is geweier aan persone wat, na Shand se mening, op Sondae te ver moes reis vir hierdie doel.

Shand se onversetlike houding het gelei tot vertoë deur beswaarde gemeentelede tot die sinode* en die Britse Regering. ’n Afskeiding het in Januarie 1843 ’n voldonge feit geword toe die Kruisvallei-gemeente deur die beswaarmakers gestig is. Hoewel dié gemeente voortgegaan het as NG gemeente, is dit onafhanklik van die sinode verklaar. Kerkregtelik* is daar dus ’n gemeente sonder kerkverband* gevorm wat tot 1894 voortbestaan het. Daar was afsonderlike kerkgeboue, pastorieë en predikante. Shand het sy werk as leraar van die Tulbagh-gemeente  tot met sy afskeid in September 1871 voortgesit. Kruisvallei en Tulbagh is uiteindelik weer op 11 Oktober 1935 ná meer as negentig jaar herenig as die NG gemeente Tulbagh.

Vir verdere lees: PB van der Watt 1977. Gemeentes – en nogmaals gemeentes, Pretoria: NGKB.

 

Sidebar