SHAW, BARNABAS

SHAW, BARNABAS (1788–1857) is op ’n plaas in Eloughton, Yorkshire, Engeland, gebore waar hy die Anglikaanse* kerk in die oggende bygewoon het terwyl hy saans by die Metodiste* “Society” aangesluit het. Hier het hy algaande tot bekering* gekom en, toe hy twintig jaar oud was, ’n lekeprediker geword. In 1810 is hy as kandidaat vir die bediening van die Woord* aanvaar en vier jaar later georden*.

Die volgende jaar het hy hom as sendeling* aangebied en is na die Kaap van Goeie Hoop gestuur. Hy het op 16 April 1816 in die Kaap aangekom. Hier het hy eredienste vir die soldate gehou – al is dit deur die goewerneur, Lord Charles Somerset, verbied. Hy is daarna Namakwaland toe waar hy die Leliefontein-Metodiste Sending gestig het. Terwyl hy daar was, het van die inheemse mense soos Jacobus en Pieter Links hulle bekeer. Shaw het ook baanbrekerreise na die binneland onderneem. In 1826 het hy Leliefontein verlaat en in Kaapstad gewerk waar hy ’n nuwe kerkgebou opgerig het. In 1834 het hy ’n sending met die vrygelate slawe in Stellenbosch begin wat hy Raithby genoem het. Hy is in Kaapstad oorlede.

 

Sidebar