SHEMBE, ISAIAH MDLIWAMAFA

SHEMBE, ISAIAH MDLIWAMAFA (1867–1935) is die stigter van die iBandla lama Nazareth. Na ’n aanvanklike betrokkenheid by die Wesleyane*, het hy hom by William Leshega en die African Baptist Church aangesluit. Dit is in hierdie kerkgroep dat hy in 1906 gedoop* en kort daarna as leraar* ingeseën is. Hy het later ’n gewyde sentrum by Ekuphakameni (“Plek van verhewenheid”) tot stand gebring.

Shembe was ’n prediker en geneser. Hy het in 1910 sy eie kerk in Durban gestig, en dit sou die grootste Afrika-inisiatief-kerk* onder die Zoeloes* word. Elke jaar het duisende van sy volgelinge die pelgrimstog na die heilige berg Nhlangakazi (in die omgewing van Eshowe) afgelê. Hy was bekend vir lewendige gelykenisse en dramatiese genesings, en dat hy mense se gedagtes kon “lees”. Shembe het talle treffende liedere gekomponeer en vir sy volgelinge ’n ryk liturgiese* tradisie geskep wat gebaseer is op tradisionele Zoeloeliedere in verwerkte vorm. Sy teologie* was eintlik ’n Afrika-weergawe van die Christelike geloof.

Shembe word ook onthou as iemand wat sagmoedigheid en strengheid in sy persoon verenig het, en lief was vir alles wat leef. Hy het nie toegelaat dat ’n enkele boom afgekap word sonder toestemming en goeie rede nie. Voëls het hy as naby aan God beskou; gevolglik moes hulle aangelok eerder as doodgemaak word. By Ekuphakameni is elke dag vars water vir hulle neergesit, en duiwe is met die hand gevoer. Vir siek diere en perde het hy gebid, want – het hy geglo – God het deernis vir alles wat leef.

 

Sidebar