SHEPHERD, ROBERT HENRY WISHART

SHEPHERD, ROBERT HENRY WISHART (1888–1971) het van 1899 af vir twaalf jaar in Dundee, Skotland, in ’n goiingmeule en as plaaslike spoorwegklerk gewerk. Hy het van 1911 tot 1915 aan die Universiteitskollege van Dundee, die Universiteit van St Andrews en dié van Edinburgh gestudeer en sy MA in Britse geskiedenis verwerf. Shepherd het daarna teologiese* opleiding in Edinburgh ontvang. Nadat hy as predikant* van die United Free Church of Scotland bevestig is, vertrek hy in 1920 na Suid-Afrika. Hy het later in sy lewe drie eredoktorsgrade, onder meer van die Universiteit van Kaapstad, gekry.

Shepherd was van 1920 tot 1926 by die hoofsending* in Tembuland gestasioneer voordat hy skriba van die swart Presbiteriaanse Kerk* geword het. Hy is in 1926 tot kapelaan en direkteur van publikasies van die sendinginstituut op Lovedale* bevorder – ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1955 beklee het. Shepherd het vir byna twintig jaar in die raad van die latere Universiteit van Fort Hare gedien – onder andere as voorsitter (1949–1953). As opvoedkundige was hy vir die stigting van twintig skole verantwoordelik en hy was ná sy aftrede as hoof van Lovedale, leraar* van die gemeentes* Alice en Fort Beaufort. Shepherd was vanaf 1956 tot 1960 president van die Christelike Raad van Suid-Afrika, en is in 1959 in Edinburgh vir ’n termyn as moderator* van die wêreldwye Church of Scotland aangewys. Hy het as lid van die Monchton-kommissie raad gegee oor die toekoms van die destydse Federasie van Rhodesië en Njassaland.

Shepherd het self ’n groot bydrae vir die bevordering van die geskrewe woord onder Xhosa*-sprekendes gelewer. Veral as redakteur van The South African Outlook het hy meer as 700 artikels en pamflette benewens agtien boeke gepubliseer – onder meer drie werke oor Lovedale se geskiedenis en literatuur. Shepherd is in Junie 1911 met Mary Goodfellow getroud wat self ’n aktiewe rol in die sending gespeel het met haar belangstelling in kerkmusiek. Sy het ’n Xhosa-gesangboek geredigeer.

Vir verdere lees: CJ Beyers 1987. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 5. Pretoria: RGN. DJ Potgieter (red) 1973. Standard Encyclopedia of Southern Africa, deel 9. Kaapstad: Nasou.

 

Sidebar