SHEPSTONE, THEOPHILUS

SHEPSTONE, THEOPHILUS (1817–1893) was die seun van ’n 1820-Setlaar* en Wesleyaanse* sendeling* aan die Kaapse oosgrens. Hy was vroeg reeds isiXhosa en later isiZoeloe magtig en was die administrateur vir die Zoeloes* in die Britse kolonie van Natal (1843–1875). Hy het ook later vanweë sy betrokkenheid in 1877 by die Britse anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek bekendheid én berugtheid verwerf.

Met sy aanvanklike ampsaanvaarding is Shepstone in die destydse Natal met verskeie probleme gekonfronteer. ’n Gebrek aan finansies het die uitgebreide administrasie van die Zoeloes verhoed: daar was onder meer ʼn klein wit bevolking, en ’n oorweldigende swart bevolking, aangevul deur vlugtelinge wat ná die Mfecane* (Kyk ook by: Shaka) na hulle woongebiede teruggekeer het. Somtseu (groot vader) – soos Shepstone onder die Zoeloes bekend gestaan het – het mettertyd ’n stelsel van indirekte beheer toegepas. Om die vrede te bewaar, is die vlugtelinge in sewe “lokasies” of reservate onder beheer van hoofmanne gevestig wat volgens die tradisionele regstelsel regeer het. Shepstone het toesig oor die hoofmanne uitgeoefen deur die aanstelling van resident-magistrate. Die “Shepstone-stelsel” is hoofsaaklik gefinansier met die instelling van ’n hutbelasting. Daar was egter geen fondse vir onderwys óf die verwestering (“beskawing”) van swartes nie. Met sy segregasie* het Shepstone een van die belangrikste grondleggers van die latere segregasie-beleid in Natal én, ná 1910, van die Unie van Suid-Afrika geword. In godsdienstige verband was Shepstone ’n belydende Christen* wat jare lank ’n hegte vriendskap met biskop JW Colenso* gehad het.

Vir verdere lees: D Welsh 1971. The Roots of Segregation: Native Policy in Colonial Natal, 1845–1910. Kaapstad: Oxford University Press.

 

Sidebar