SIEKEPASTORAAT

SIEKEPASTORAAT. Siekwees, veral in die geval van ’n ernstige siektetoestand, lei dikwels tot disoriëntasie. Die siek mens vra vrae oor die verhouding met God en die medemens. Die uitsig op die toekoms raak verduister met ’n gepaardgaande ervaring van eensaamheid. Die oorheersende vraag is: Is dit moontlik om midde-in siekte en dood* sinvol te leef? Die antwoord op hierdie vraag word ook in die pastorale proses gesoek terwyl die pastor die siek mens probeer begelei tot reoriëntasie, dit wil sê tot ’n nuwe gerigtheid op God en die medemens. Na hierdie begeleidende taak word verwys as siekepastoraat.

Siekepastoraat is ’n wyer term as siekeberaad. Dit is meer omvattend, soos wat die begrip pastoraat meer omvattend as die begrip pastorale beraad is. Siekepastoraat sluit dus nie net die gesprekvoering met iemand op ’n siekbed in nie, maar die totale versorging wat binne en uit ’n kerklike omgewing aangebied word. ’n Goeie hedendaagse tendens is om ook eerder klem te plaas op heling en nie soseer gesondheid* nie. Die doel van betrokkenheid by siek mense is nie om gesondheid ten alle koste na te jaag nie, maar om soms te werk vir ’n ervaring van heelheid te midde van die krisis van siekte.

Vir verdere lees: DW de Villiers en JAS Anthonissen (red) 1982. Dominee en dokter by die siekbed. Kaapstad: NGKU. DJ Louw 1983. Siekepastoraat: Siekwees as krisis en geleentheid. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar