SIEKTE

SIEKTE is ’n komplekse verskynsel. Die geskiedenis van die geneeskunde, wat veral probeer het om die begrip “siekte” wetenskaplik onder beheer te kry, toon hoe die verstaan van siekte in kompleksiteit toegeneem het. ’n Monokousale opvatting van siekte (om die oorsaak van siekte bv anatomies of bakteriologies te lokaliseer) het algaande ontwikkel tot ’n meer holistiese verstaan daarvan wat rekening hou met biologiese, psigiese en sosiale faktore. Om siekte uit sy teenpool, naamlik gesondheid*, te probeer verstaan, maak die saak ook nie makliker nie. Die Wêreld-Gesondheidsorganisasie definieer gesondheid soos volg: Health is a state of complete physical, mental and social well-being and not merely the absence of disease or infirmity.

Indien gepoog word om siekte te definieer, behoort so ’n definisie ten minste die volgende in berekening te bring: 1. Dit behels ’n waarde-oordeel. Siekte is ’n kultuurgebonde interpretasie wat dus van konteks tot konteks verskil. 2. Dit raak die hele mens en al sy lewensfunksies. Dit tas nie net die mens op ’n fisieke vlak aan nie. Psigosomatiese siektes toon bv duidelik dat daar ’n verband is tussen die fisieke, psigologiese en sosiale aspekte van siekte. 3. Dit vereis ’n sistemiese interpretasie. Ten einde die verskynsel siekte te verstaan, is dit nodig om die mens in al sy samehange in oënskou te neem.

Vir verdere lees: DJ Louw 1983. Siekepastoraat: Siekwees as krisis en geleentheid. Pretoria: NGKB. W van Tilburg 1990. “Gezondheid en mensbeschouwing” in: G Heitink en J Veenhof (red), Heil, heling, gezondheid, ’s-Gravenhage: Meinema.

 

Sidebar