SIEL

SIEL. In die kerk* was daar oor die jare verskillende sienings oor die ontstaan van die siel. Daar was die pre-eksistensiële of Platoniese beskouing dat ’n siel, voordat dit deel van die menslike liggaam word, tot ’n hoër orde behoort. Hierdie siening het ooreengestem met die idee van ’n pre-kosmiese val en die sg verhuising van siele. Dit is egter reeds in die 5de en 6de eeu wyd afgewys.

Tradusianisme* het weer geleer dat die siel, net soos die menslike liggaam, deur voortplanting ontstaan. Die siel is dus as stoflik gesien.

Kreasianisme* verkondig dat God die siel uit niks skep en dat dit by konsepsie deur God in die wordende liggaam ingeskep word. Hierdie standpunt het oor die jare die meeste ondersteuning geniet. Dit word amptelik deur die Katolieke Kerk* voorgestaan en het ook by heelwat gereformeerde* teoloë aanklank gevind. Hulle sien die siel as onsterflik en los van die liggaam.

Siel en liggaam vorm in die Skrif* egter só ’n eenheid dat ’n aparte ontstaan van die siel vreemd daaraan is. Die siel is nie net die innerlike, nie-waarneembare draer van lewe nie, maar stel die lewe self ook voor. Dit is die setel van menslike aandoenings (emosioneel, intellektueel en geestelik) in die breedste sin van die woord.

Vir verdere lees: C Brown (red) 1978. Dictionary of the New Testament Theology Vol 3. Exeter: The Paternoster Press. JA Heyns 1978. Dogmatiek. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar