SIELESLAAP

SIELESLAAP is ’n bepaalde siening oor wat in die sg tussentoestand* met die mens sou gebeur nadat hy of sy gesterwe het. ’n Aantal nie-Christelike godsdienste huldig die beskouing van ’n “sieleslaap” as ’n mens sterf, en in die Christendom* het dit die eerste keer in 248 nC voorgekom. Hiervolgens gaan die mens met die dood* ’n toestand van stilte, onaktiwiteit en bewusteloosheid binne. Dit is gegrond op uitsprake in die Bybel* waar die dood voorgestel word as slaap (Matt 9:24; Joh 11:11-13).

Die oorwegende boodskap van die Bybel is egter dat mense ná die dood tot by die wederkoms* van Christus* in ’n bewuste toestand verkeer. Hulle lewe bewustelik voort, weg van God (Matt 24:51) én by God: Paulus* verlang om by Jesus* te wees (Fil 1:23); die gelowiges weet dat hulle by Jesus is (Joh 12:26); 17:24-26); Stefanus* sterwe met hierdie versekering (Hand 7:59); Jesus praat daarvan (Joh 11:25), en die Bybel bevestig dit op ander plekke (2 Kor 5:1-10; Op 6:9-11). (Kyk ook: Limbo*.)

 

Sidebar