SIELKUNDE

SIELKUNDE. Volgens die HAT is sielkunde en psigologie sinonieme. Dit verwys na die wetenskaplike studie van die menslike gees*, of bewussyn, of innerlike (siel*). Die Oxford American Dictionary beskryf dit soos volg: “The study of the mind and how it works.”

Omdat teologie* ook met die menslike gees te maak het, was daar nog altyd ’n noue verband tussen teologie en sielkunde. Soms is dit ook ’n gespanne verhouding omdat die teologie uitgaan van Bybelse* uitsprake oor die menselike aard. Die sielkunde weer is ’n empiriese wetenskap wat sy uitgangspunt neem in waarneembare menslike gedrag. Waar daar egter ’n gebalanseerde benadering tot die moontlikhede en beperkings van beide dissiplines bestaan, hoef daar geen spanning te wees nie. Wanneer teologie nie met beterweterige uitsprake kom nie, maar erns maak met die menslike kondisie, is die insigte uit die sielkunde ’n bondgenoot en nie ’n vyand nie. Net so sal ’n gebalanseerde sielkundige benadering die teologiese beskrywing en verstaan van die menslike werklikheid as aanvullend en nie as opponerend nie, sien.

Die moderne sielkunde het ontwikkel in ’n goed gedokumenteerde vakgebied met ’n wye verskeidenheid teorieë. So kry ’n mens persoonlikheidsielkunde, ontwikkelingsielkunde, gedragsielkunde, kliniese sielkunde, forensiese sielkunde, kindersielkunde.

Die ontwikkelings in die sielkunde kan beskryf word aan die hand van drie golwe: Die eerste is die psigo-analitiese golf en het die menslike toestand beskryf in terme van innerlike konflikte en gedrewe deur destruktiewe instinkte. Behaviorisme is die tweede golf en beskryf die mens se gedrag as aanpasbaar en geheel en al gekontroleer deur eksterne stimuli. Die derde golf staan bekend as humanistiese psigologie en dit plaas die klem op die positiewe kragte in die mens en op interne motivering. Nie een van hierdie teorieë bevat die volle waarheid nie, maar elkeen verteenwoordig ’n perspektief op die menslike bewussyn en menslike gedrag wat die rykdom daarvan na vore bring.

Vir verdere lees: Don Hamachek 19904. Psychology in Teaching, Learning, and Growth. Londen: Allyn and Bacon.

 

Sidebar