SIKH

SIKH. Sikhisme het omtrent 500 jaar gelede deur die toedoen van guru Nanak (1469–1539) in Indië tot stand gekom, wat dit een van die jongste wêreldgodsdienste maak. Nanak is deur nege gurus opgevolg – “guru” synde ’n gemeenskaplike term in alle Indiese tradisies vir ’n geestelike begeleier. Die hoeksteen van sy leerstellings is gelykheid tussen alle mense en sosiale geregtigheid. Die drie basiese komponente van guru Nanak se lerings is: Naam Japo – om God se naam konstant te mediteer; Kirt Karo – om ’n eerlike nie-uitbuitende werk te verrig; en Wand Chakko – om dit wat jy verdien, uit liefde en medelye met ander te deel.

Verlossing vra volgens hierdie godsdiens nie ontrekking aan die wêreld nie en kan deur enigiemand verwerf word wat eerlik leef en ’n normale lewe lei. Nanak se etiek van eerlik lewe is op verligting (insig) eerder as verlossing gerig. ’n Sikh (dissipel of soeker na waarheid) glo in een God en aan die lerings van die Tien Gurus, soos opgeteken in die heilige boek, Guru Granth Sahib. ’n Navolger moet deur ’n inisiasieseremonie, die Sikhdoop, gaan om in die Khalsa opgeneem te word. Die doel van die Khalsabroederskap is om alle onderskeidings soos dit gevind word in die streng Indiese kastesisteem, en in geslag en etnisiteit, te deurbreek.

 

Sidebar