SILISIË

SILISIË was ’n Romeinse provinsie (Kyk by: Romeinse Ryk) aan Klein-Asië* se suidooskus waar Paulus* se geboortestad, Tarsus*, geleë was. In die sesde eeu vC was die inwoners van Silisië in opstand teen die Babiloniërs* onder leiding van Nebukadnesar* (Judit 1:12, 2:21-25), en in die tweede eeu vC teen die Seleukiede (1 Makk 11:14). Silisië se twee hoofdele word gekenmerk deur die verskille tussen die oostelike, vrugbare vlakte waardeur die handelsroete tussen Sirië* en Klein-Asië gegaan het, en die westelike, onherbergsame gedeelte wat daarvoor berug was dat seerowers soms daar geskuil het. Benewens Silisië se strategiese ligging met ’n toeganklike handelsroete en bergpasse, was dit van ekonomiese belang omdat die riviere in die ooste en weste gesorg het vir ’n vrugbare omgewing waar druiwe, graansoorte en vlas verbou is, en in die antieke tyd is daar ook yster ontgin in die omgewing van Tarsus*. Nadat Pompejus Silisië in 67 vC verower het, was dit ’n gebied wat deurgaans onder politieke woelings sowel as die korrupsie van plaaslike regeerders deurgeloop het. Dit is vererger deur die Romeinse burgeroorlog in die suidooste. Verwysings in die Nuwe Testament* dui daarop dat daar toe waarskynlik ’n administratiewe band met Sirië was (Hand 15:23, 41; Gal 1:21; ook Hand 27:5).

 

Sidebar