SIMOND, PIERRE

SIMOND, PIERRE (circa 1650–circa 1720) is in Nion, Dauphiné, gebore en het aan die Akademie van Die gestudeer. In 1688 het hy saam met die Franse Hugenote* na die Kaap gekom. Mettertyd het hy ’n stuk grond tussen Stellenbosch en Drakenstein aan die oostekant van die Banghoekpas bekom, ongeveer in die omgewing van die huidige Simondium, op die plaas wat hy Bethlehem (ook Bethléem) genoem het. Die owerheid het bepaal dat Simond om die beurt een Sondag op Stellenbosch en die ander in Drakenstein moes preek, en soms in die Kaap.

Aan die begin van die 1700’s het Simond die Here XVII versoek om te mag aftree en na Europa terug te keer. Hy het sy laaste preek in April 1702 aan die Kaap gehou. Die eintlike rede waarom hy wou teruggaan, is dat hy sy Franse beryming van die Psalms*, waaraan hy hier gewerk het, aan die sinode* in Nederland wou aanbied – iets waarna kerke in Europa al ’n hele paar jaar uitgesien het. Dit is 1704 in Amsterdam gepubliseer: Les Veillées Afriquaines ou les Psaumes de David mis en vers français (Nagwake uit Afrika of die Psalms van Dawid in Franse beryming). Daarmee het dit die oudste gepubliseerde letterkundige en teologiese werk uit Suid-Afrika geword. Nadat hierdie publikasie lank verlore was, is ’n kopie daarvan in 1997 in die Nasionale Biblioteek in St Petersburg, Rusland, opgespoor.

Vir verdere lees: Pieter Coertzen 1988. Die Hugenote van Suid-Afrika 1688–1988. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar