SIMSON

SIMSON is ’n rigter* van Israel*2 wat deur sy ouers grootgemaak is as ’n nasireër* (waarvolgens hy homself moes afsonder vir die Here*, nie sterk drank drink nie, nie sy hare mag sny nie, en nie naby ’n lyk mag kom nie – lees Num 6). Simson word veral gekenmerk deur sy besondere krag, maar ook sy swakheid vir vroue, onder meer die befaamde Delila*. Die verhale in Rig 13–16 vertel hoe Simson sy krag gebruik om Israel van die Filistyne* te bevry, maar ook hoe hy keer op keer sy nasireërgeloftes verbreek. So vertel Rig 14 hoe Simsom op pad na ’n huweliksfees heuning uit die karkas van ’n leeu haal wat hy ’n vorige keer met sy kaal hande doodgemaak het. Hierdie insident dien as inspirasie vir die raaisels wat ’n leitmotief in die verhaal vorm. In die laaste verhaal in Rig 16 verklap Simson aan Delila dat die geheim van sy krag in sy hare lê. Wanneer Delila Simson se hare afsny, oorrompel die Filistyne hom, steek sy oë uit, en gooi hom as ’n gebroke man in die tronk. In Simson se sterwensuur herwin hy weer iets van sy krag wanneer hy die pilare van die tempel van Dagon* omstoot en 3 000 Filistyne* saam met hom doodmaak.

 

Sidebar