SINAGOGE

SINAGOGE is afgelei van die Griekse* woord sunagogé, “vergadering”, in die Septuaginta*, maar dit het ook ’n tegniese betekenis as aanduiding van ’n plek waar Joodse* gelowiges gereeld vergader om te aanbid en die Wet* te bestudeer. Dit is vir ten minste die afgelope 2000 jaar die middelpunt van die Joodse godsdienstige en gemeenskapslewe. Die dubbele betekenis van die woord weerspieël die probleem met die historiese verklaring van die sinagoge. Wanneer het die sinagoge ontstaan? Die Ou Testament* sê niks van ’n bet ha-knesset, die Hebreeus* vir sinagoge, nie. Die Septuaginta gebruik sinagoge vir eda, vergadering. Opgrawings in Egipte* het in die tyd voor Jesus* ’n sinagoge opgelewer, maar in Israel* is tot dusver geen onbetwisbare getuienis van ’n sinagoge-gebou vóór Christus* nie, en slegs enkeles uit die eerste eeu ná Christus, en geleerdes verskil of dié werklik sinagoges was. Volgens rabbynse (Kyk by: Rabbi) tradisie is die sinagoge deur Moses* ingestel.’n Minderheid geleerdes plaas die sinagoge se ontstaan in die 7de eeu vC, tydens Josia* se hervorming en herontdekking van die Wet*. Enkele geleerdes meen die sinagoge het sy ontstaan in die tyd na die Babiloniese* ballingskap*2, ’n produk van die opkoms van die Fariseërs* in die tweede eeu vC. Die konsensus-verklaring vir die ontstaan van die sinagoge plaas dit tydens die ballingskap. Die Jode was ver van hulle tempel* en sy offerandes*. Die sinagoge, met sy klem op die lees en leer van die tora*, neem die plek van die tempel in. Uiteindelik is die tempel herbou, maar die sinagoge behou sy sentrale plek in Israel se godsdienstige lewe. Sommige vroeë Christene* het hulle byeenkomste “sinagoge” genoem (Jak 2:2).

Vir verdere lees: LJ Hoppe 1994. The Synagogues and Churches of Ancient Palestine. Collegeville: Liturgical Press.

 

Sidebar