SINAI

SINAI kan na twee sake verwys:

  1. Dit is die skiereiland tussen Egipte* en Palestina*. Die skiereiland word aan die ooste deur die Golf van Suez begrens en aan die weste deur die Golf van Akeba en die Negevwoestyn.
  2. Dit is ’n berg wat in die Sinaiskiereiland geleë is. Dit is die berg waar die Here* woon (Deut 33:2; Rig 5:5); daarom word dit ook as die “berg van die Here/God” bestempel (Num 10:33). Skynbaar word in Deut (1:2, 6, 19; 4:10, 15 ens) en in 1 Kon 19:8 na Horeb as ’n wisselvorm van Sinai verwys.

Eusebius* het reeds in die 4de eeu nC Sinaiberg met die berg in die suide van die Sinaiskiereiland geïdentifiseer wat vandag nog in Arabies as Jebel Musa (Mosesberg) bekend staan. Hierdie granietberg is ongeveer 2 300 m hoog en was volgens Num 33 en Deut 1:2 ongeveer 11 dae se reis van Kades-Barnea* af geleë. Elia* se reis van 40 dae van Berseba* af na Sinai of Horeb dui ook op ’n aansienlike afstand wat gereis moes word en maak ’n alternatiewe plasing in Midian* minder waarskynlik (1 Kon 19:8).

Sinaiberg was veel meer as net ’n geografiese punt op ’n kaart of ’n stilhouplek op die roete van Egipte* af tot in die beloofde land. As die “berg van God” was Sinai die plek van besondere ontmoeting met God en vanwaar die Here vir Israel* te hulp gesnel het (Ps 68:17). Sinaiberg is by uitstek die plek waar die verbond* tussen die Here en sy volk Israel beslag gekry het. Dit is die plek waar Moses* namens die volk die Tien Gebooie* van die Here ontvang het: die samevatting van die Here se verbond en wat sentraal in Israel se teologies-etiese besinning gestaan het (Eks 19–20; Deut 5–6).

 

Sidebar