SINERGISME

SINERGISME. Dié begrip is afgelei van die Grieks* synergos en beteken letterlik “om saam te werk”.  “Sinergie” dui op samewerking van verskillende dinge/middele/mense/maatskappye sodat die geheeleffek groter is as die som van hulle doeltreffendheid afsonderlik (HAT, 2015). Teologies gesproke verteenwoordig sinergisme die standpunt dat in God se verlossende daad van regverdiging* en in die ervaring van bekering* die menslike wil kan “saamwerk” met God se genade*. Sinergisme verwys direk na die leerstelling van Goddelike en menslike samewerking en verteenwoordig ’n intellektuele poging om die soewereiniteit van God en menslike morele verantwoordelikheid saam te dink. In die geskiedenis van die Christelike* teologie* verteenwoordig die Augustiniaanse tradisie (Kyk by: Augustinus), later nagevolg deur Calvyn* en Luther*, ’n duidelike beklemtoning van die soewereiniteit en inisiatief van God in die bekeringsdaad (ook genoem monergisme). Die Pelagiaanse tradisie (Kyk by: Pelagius) verteenwoordig weer die mens se morele verantwoordelikheid en word in gewysigde sin gevind in die denke van Erasmus* van Rotterdam, Armenius* en John Wesley*. Die werklike sinergistiese kontroversie het plaasgevind gedurende die Lutherse Reformasie en het ontwikkel rondom die vraag of Melanchton* inderdaad ’n sinergis was al dan nie. Melanchton het egter die aanklag skerp verwerp en beklemtoon dat regverdiging* uitsluitlik die werk van die Heilige Gees* is.

 

Sidebar