SINKRETISME

SINKRETISME. Die tradisionele verstaan van die term behels ’n proses of resultaat van ’n proses waarvolgens uiteenlopende elemente van verskillende kulture en/of godsdienste op so ’n manier vermeng geraak het dat die integriteit van die onderliggende patroon in gedrang kom. Dit kan doelbewus of spontaan plaasvind. In eersgenoemde geval kan dit deur eksterne belangeoorwegings gemotiveer word.

Die doelbewuste samevoeging van godsdienstige (en kulturele) elemente om ’n nuwe beweging daar te stel is ’n redelik seldsame verskynsel. (’n Voorbeeld hiervan sou die Romeinse keiserkultus kon wees.) Dit gaan meestal oor die meer spontane verskynsel.

Die algemeen gangbare verstaan van laasgenoemde (veral waar dit as etiket gebruik word) is nie sonder probleme nie, die vernaamste waarvan naïewiteit oor die normale interaksie van kulture en godsdienste.

In die geval van die kerk* of die Christendom* wil dit voorkom of daar dikwels uitgegaan word van die veronderstelling van ’n “suiwer”, “onvermengde” Christenheid as norm vir kerklike en geloofsgemeenskappe. (’n Meer naïewe variant hiervan beskou die Westers-Christelike tradisies as suiwer en normatief en die res as onsuiwer of verdag.)

Die Christelike geloofsverstaan, houding, leefwyse, kultuur en kerklike lewe het nog altyd in wisselwerking met die bestaande konteks geskied of vorm aangeneem (verwant aan inheemswording* of inkulturasie*). Daar bestaan dus nie ’n “suiwer” Christenheid nie en ook nie ’n enkele ideaaltipe nie.

’n Verdere misverstand is dat sinkretisme as ’n godsdienswetenskaplike kategorie hanteer kan word aan die hand waarvan bewegings of kerke objektief beoordeel kan word. Dit is daarom betekenisvol dat die term omtrent glad nie in die godsdienswetenskap funksioneer nie.

Alvorens ’n Christelike beweging of kerk as sinkretisties bestempel word, moet eers oorweeg word of die eie verstaan van Christenheid en kerkwees nie te eng is nie. Verder sal verduidelik moet word wat met so ’n uitspraak bedoel word.

 

Sidebar