SINODE VAN VERSOENING

SINODE VAN VERSOENING, 1994. Vroeër in 1994 het die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika vreedsaam verloop. Die uitslag het ’n nuwe regering onder pres Nelson Mandela* aan bewind gestel. Alle oë was op die grootste blanke kerk, die NG Kerk*, wat gedurende Oktober van daardie jaar in Pretoria sou vergader om aan gelowiges leiding te gee in die “nuwe” en veranderende Suid-Afrika.

Die sinode* het lidmate* opgeroep om in vrede met alle mense te lewe. Die versekering is gegee dat daadwerklik hulp verleen sal word aan alle mense in nood en veral ook dié met vigs*. Oor eenheid in die NG Kerkfamilie* is besluit om gesamentlik ’n konsepkerkorde op te stel. Daar is besluit om weer bande met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke* en die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke* te probeer smee.

Vir die eerste keer is daar ook erkenning gegee aan kerkmense wat teen apartheid* getuig het soos prof Ben Marais* en dr Beyers Naude*, wat albei die sinode besoek het. Die optrede van pres Mandela en sy toespraak in Afrikaans* was uniek.

Die sinode, wat bekend geword het as die “Sinode van Versoening”, is gelei deur ds Freek Swanepoel* (moderator*), ds Kobus van der Westhuysen* (assessor), prof Pieter Coertzen* (aktuarius*) en dr Frits Gaum (skriba).

 

Sidebar