SINODE

SINODE. ’n Kerkverband* kan uit verskillende grade van verbandsvorms en verbandsvergaderings bestaan, soos gemeente*verbande, rings*verbande, streeks- (sinodale) verbande en ’n nasionale (algemene sinodale) verband.

Die woord “sinode” beteken letterlik die saamloop van paaie en dui op ’n vergadering van gemeentes* uit ’n bepaalde gebied. As verskynsel in die Christelike kerk* is sinodes baie oud. In die gereformeerde* wêreld kry ons die eerste vorm van ’n sinode in die Franse gereformeerde kerke van die 16de eeu. Van daar af het dit oor die hele gereformeerde wêreld versprei in die vorm van hetsy streeksinodes, nasionale sinodes of algemene sinodes.

Die eerste sinode van bv die NG Kerk* was die sinode van 1824. Tot in 1860 het die sinodes van die NG Kerk in Suid-Afrika ook die gemeentes uit die Vrystaat, Natal en Transvaal ingesluit. Ná 1860, as gevolg van ’n hofuitspraak, het dié gebiede elkeen hulle eie sinodes gevorm (Kyk by: Ludolff). In 1962 het die algemene sinodale verband van die NG Kerk tot stand gekom, destyds bestaande uit vyf sinodale verbande. Streeksinodes van die NG Kerk word tans (2015) saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik kan vergader. Die Algemene Sinode het ’n eie samestelling wat ook saamhang met die grootte van die verskillende streeksinodes wat daarin verteenwoordig word. Sinodes het hulle eiesoortige funksies binne die kerkverband. Sinodes is in die gereformeerde kerkbeskouing nie die “hoogste” kerkvergadering nie, maar die “breedste” in die sin dat daar breë verteenwoordiging van gemeentes en/of ringe in sinodes is.

Vir verdere lees: P Coertzen 1991. Ordelik en gepas: ’n Teologiese verantwoording van die orde vir en in die kerk. Pretoria: RGN.

 

Sidebar