SINOPTIESE EVANGELIES

SINOPTIESE EVANGELIES. Griesbach het al in 1776 Matteus*, Markus* en Lukas* in parallelle kolomme langs mekaar gedruk om dit “saam te sien” (sun + opties = sinopties) omdat hulle soveel opvallende ooreenkomste in detail en opbou, maar ook verskille, vertoon. Markus het 7% unieke inhoud uit 1 500 reëls, en deel 93% met minstens een ander Evangelie, Matteus het 42% uit 2 400 reëls uniek en deel 58%, Lukas het 59% uit 2 600 reëls uniek en deel 41% (en Johannes* het 92% uniek en deel net 8%). Soms het al drie dieselfde Griekse* woorde (met klein verskille) bv Matt 8:1-4; Mark 1:40-44; Luk 5:12-14. Soms het twee van die drie Evangelies groot gedeeltes gemeenskaplik wat in die derde ontbreek (Bergrede* in Matteus en Lukas). Die enigste verklaring hiervoor is dat hulle van mekaar gebruik moes gemaak het.

Reeds vir ongeveer een en ’n half eeu is die mees aanvaarde teorie dat Lukas en Matteus gebruik maak van mondelinge oorlewering én die geskrewe Griekse Markus-Evangelie én ’n bron Q (met stof wat nié in Markus nie, maar wel in Matteus en Lukas voorkom). Markus gebruik mondelinge tradisie (Kyk by: Bybel, mondelinge oordrag) en tradisiestukke om met sy eie aksente sy dramatiese verhaal oor Jesus* saam te stel. Tog meen ander ondersoekers steeds dat Matteus eerste ontstaan het.

Vir verdere lees: AB du Toit (red) 1988. Handleiding by die Nuwe Testament IV. Pretoria: NGKB.

 

Markus                                    Q

 

 

Matteus eie stof                                                          Lukas eie stof

 

 

 

Matteus                                   Lukas

 

 

 

 

Sidebar