SION

SION verwys na verskillende plekke:

  1. Dit was die suidoostelike heuwel van Jerusalem* bokant die Gihon* tussen die Kidron*- en Tiropoiondal. Dit was eers ’n vesting van die Jebusiete* wat ná Dawid* se verowering as “Dawidstad*” bekend gestaan het (2 Sam 5:7; 1 Kon 8:1).
  2. Ná die oprigting van die tempel1* deur Salomo* op die hoër tempelberg, noord van die ou Dawidstad, dui Sion egter op die noordoostelike heuwel van Jerusalem.
  3. Ná die vernietiging van die tempel (586/7 vC) dui Sion op die suidwestelike heuwel van Jerusalem* op grond van heilige plekke soos Dawid se graf.
  4. Uiteindelik word Sion aanduiding van die hele Jerusalem en sy inwoners (Ps 147; Jes 1). Dit word ’n godsdienstige begrip en sinoniem wat Jerusalem as heilige stad aandui. Digterlike uitdrukkings soos “dogters van Sion/Jerusalem” of “jongvrou Sion” teken Jerusalem as ’n ma met die inwoners as haar dogters (Jer 6). Profete waarsku teen die sonde* van Sion (Amos 6). Hulle kondig die oordeel teen haar aan (Jes 10; Jer 7). In ballingskap* dui Sion op die ballinge wat God weer in genade* aanneem (Jes 49; 51).

Teologiese uitsprake oor Sion is ten nouste aan die tempel en stad verbonde. Tradisies rondom Jahwe*, Israel* se God, is moontlik vermeng met vroeër elemente van die Jebusities*-Kanaänitiese* El*- (God)-verering in Jerusalem. El Eljon (“hoogste God”) was vroeër die naam of titel van die Jebusitiese god (Gen 14:19). Later word dit op Israel se God oorgedra. Ná Dawid se verowering behoort Sion aan Hom. Hy het Sion as woonplek uitgekies en gevestig (Jes 14:32). Hierdie “heilige berg” (Ps 2:6) is die “stad van God” (Ps 46). Hier woon Hy in sy huis/tempel (Ps 9; 74). Later woon sy Naam daar (1 Kon 8:12 en volgende verse). As woonplek van die Dawidiese konings word die uitverkiesing van Sion as God se woonplek met die verkiesing van die Dawidshuis verbind (Ps 110; 132).

Uit Sion maak God Hom bekend (Amos 1), stuur Hy hulp (Ps 14), en seën Hy (Ps 134). Tydens groot feeste* kom Israeliete hierheen om Hom te aanskou, te dank en te aanbid (Ps 42). Sion is ’n simbool van veiligheid vir God se mense, en ’n stad van skoonheid vanweë God se glans (Ps 50; Hoogl 6).

Sion word ook mities geskilder as wêreldsentrum en hoogste Godsberg in die noorde (Ps 48). Volke sal teen die Here en sy volk aanstorm, maar dit nie vernietig nie (Ps 46; Jes 17). (Paradys)strome vloei deur die Godstad en verbly hulle (Ps 46; Eseg 47). In die eindtyd sal volke hierheen stroom dat God hulle sy wet* kan leer (Jes 2; Miga 4). Eindtydbeloftes het ook in Sion hulle vertrekpunt (Jer 31; Sag 9).

In die Nuwe Testament* is die meeste verwysings na Sion aanhalings uit die Ou Testament* (Matt 21:5; Joh 12:15; Rom 9:33; 11:26; 1 Pet 2:6). Die weg van Christene* word met die weg na Sion vergelyk (Heb 12:22), terwyl Sion verder die plek is vanwaar die Lam Hom in die eindtyd bekendmaak (Op 14:1). Sion is dus simbool vir God se (hemelse) woonplek.

 

Sidebar