SIPRUS

SIPRUS is naas Sisilië en Sardinië die derde grootste eiland in die Middellandse See. Dis geleë tussen Klein-Asië* (noorde), Sirië (weste) en Egipte* (suide). Die klimaat en topografie stel die eiland deur die eeue in staat tot goeie landbou-opbrengste, alhoewel sy eintlike rykdom sy koperneerslae en dennehoutplantasies is. Die Hebreeuse* naam Kittim is waarskynlik afgelei van Kition, die naam van die stad wat oorspronklik deur Fenisiërs in die suidoostelike gedeelte van die eiland gevestig is. Die verwysing na Elisa*2 (Gen 10:4; 1 Kron 1:7; Eseg 27:7) in die Ou Testament*, bedoel waarskynlik Siprus. In die Nuwe Testament* is daar twee keer sprake van Sipriote, naamlik Barnabas*, die reisgenoot van Paulus* (Hand 4:36), asook Mnason wat in Jerusalem* gebly het en by wie Paulus ’n keer tuisgegaan het (Hand 21:16). Sipriote het die evangelie* aan die Griekssprekendes van Antiogië* in Sirië (Hand 11:19-20) gebring, en ná ’n uitval met Paulus, het Barnabas en Johannes Markus* die eiland besoek (Hand 15:39).

 

Sidebar