SIRENE

SIRENE was die hoofstad van die Romeinse provinsie (Kyk by: Romeinse Ryk) Sirenaika in Noord-Afrika (min of meer Libië vandag).  Die naam is ontleen aan die natuurgodin Kirana, wat ook die naam van ’n nabygeleë standhoudende fontein was. Die stad het ontstaan deur die toedoen van Griekse koloniste afkomstig van Tera in die sewende eeu vC. Dit was deur die eeue welvarend, veral as gevolg van graan-, wol-, olyfolie- en spesery-produksie. Nadat Sirene in die vyfde eeu vC onder beheer van Ptolemeus I gekom het, was daar heelwat Jode* in die stad totdat die Romeinse keiser* Trajanus in 115 nC ’n opstand deur die Jode gewelddadig onderdruk het. ’n Inwoner van Sirene, Simon*7, waarskynlik op ’n pelgrimstog in Jerusalem* tydens die Pasga*, word deur die Romeinse soldate gedwing om Jesus* se kruis* te dra (Matt 27:23; Mark 15:21; Luk 23:26). Daar is ook verwysings na Sireniërs in Handelinge* se vertelling (2:10; 6:9; 11:19-20; 13:1).

 

Sidebar