SIRENIUS, SULPISIUS

SIRENIUS, SULPISIUS (circa 50 vC–21 nC) was volgens Luk 2:2 goewerneur van die Romeinse provinsie (Kyk by: Romeinse Ryk) Sirië toe keiser* Augustus* ’n sensus in die hele ryk gehou het. Buite-Bybelse bronne weet egter van geen sensus in hierdie tyd (4–6 vC) nie, maar wel van ’n sensus in 6/7 nC. Die beste verklaring vir hierdie teenstrydigheid is dat Lukas* doelbewus die latere sensus sinkroniseer met Jesus* se geboorte om die belangrikheid daarvan te beklemtoon.

Sirenius was ’n belangrike figuur in keiser Augustus* (31 vC–14 nC) en Tiberius* (14–37nC) se regeringstyd. Hy was moontlik betrokke by die veldtog wat uitgeloop het op Augustus se oorwinning by Aktium in 31 vC. Hierna dien hy waarskynlik in Augustus se leërmagte in Spanje. In 14 vC word hy praetor in die provinsie wat bestaan het uit Sirene* en Kreta*.

Toe moeilikheid in 6 vC in die ooste uitbreek, gaan Sirenius as goewerneur na die provinsie Pamfilië*/Galasië*. Daar dien hy met onderskeiding. In 6 nC word hy as goewerneur in Sirië aangestel, waarby Judea* ingelyf is. In 6/7 nC het hy ’n sensus in Sirië en Judea gehou. Met sy dood is ’n openbare begrafnis aan hom gegee, ’n teken van keiser Tiberius se guns.

 

Sidebar