SIRO-EFRALMITIESE OORLOG

SIRO-EFRALMITIESE OORLOG. Koning Peka* van die Noordelike Ryk, Israel*4, wou in die 8ste eeu vC ’n koalisie van magte teen Assirië* op die been bring. Omdat Juda*4 (eers onder leiding van koning Jotam*2 – lees 2 Kon 15:37 – en ná sy dood sy seun Agas* – lees 2 Kon 16:5-9) nie by die koalisie wou aansluit nie, het Peka van Israel kragte saamgesnoer met Resin* van Aram* om Juda te dwing om dit te doen. Die inval in Juda het in 735 vC plaasgevind. Hulle het Jerusalem* beleër, terwyl die Edomiete* en Filistyne* ook vir Juda bedreig het. Agas het sy toevlug tot Assirië onder koning Tiglat-Pileser* III geneem, wat toe teen Damaskus* opgetrek het. Hy het ook teen die Filistyne opgetree en Israel ingeval. Groot dele van die land is van Israel afgeneem en die vestingstede Hasor* en Megiddo* is verwoes. Jes 7 vertel hoe die profeet Jesaja* vir Agas gewaarsku het om nie sy hoop op Assirië te stel nie, maar om op die Here* te vertrou. Omdat hy aan Assirië onderhorig geword het, het hy ook aan die Assiriese afgodsdiens deelgeneem (2 Kon 16:10-18).

 

Sidebar