SITUASIE-ETIEK

SITUASIE-ETIEK is die benadering om ’n deeglike analise van ’n situasie te maak voordat ’n etiese besluit geneem word. Situasie-etiek word teruggevoer na Martin Luther*, maar dit is veral Joseph Fletcher wat dit gedurende die 1960’s gepopulariseer het.

Fletcher se siening kom daarop neer dat ’n vaste stel norme* nie genoegsaam is om in die vinnig veranderde wêreld met sy wyduiteenlopende omstandighede verantwoordelike etiese besluite te neem nie. Die uniekheid van elke situasie bepaal wat die regte optrede sou wees. Hy pleit dat één vraag ons sal lei: “Wat is in hierdie situasie die mees liefdevolle ding om te doen?”

Anders as die eksistensialiste wat geen norm bepleit het nie (sien Antinomisme*), is daar volgens Fletscher in die Christelike* geloof* net een absolute norm, naamlik die liefde*. Die ander Bybelse* gebooie is relatief. In sekere situasies kan die liefde vereis dat ’n mens moet lieg (Ragab* in Jerigo) en selfs moord moet pleeg (Bonhoeffer* wat lid was van ’n groep wat Hitler* wou vermoor). Jesus* oortree sabbatsreëls om mense in noodsituasies te kan help.

Hierdie benadering versterk die opvatting van “die doel heilig die middele”. Die geskiedenis is vol oorloë, geweld en onreg wat geregverdig is omdat die uiteindelike doel glo goed sou wees. (Kyk ook: Kasuïstiek.)

Vir verdere lees: Joseph Fletscher 1966. Situation Ethics: The New Morality. Philadelphia: Westminster.

 

Sidebar