SJAMANISME

SJAMANISME is een van die wêreld se oudste godsdienste en het voor die Neolitiese periode (8000–300 vC) en die Brons-era (2000–500 vC) ontwikkel. Dit is oorspronklik deur die jag- en versamelgemeenskappe van Siberië en Sentraal-Asië beoefen. Die woord sjaman in Russies beteken “die een wat weet”, of “die een wat opgewonde is, beweeg, of opgehef is”. Die sjaman is gewoonlik iemand wat die uitsonderlike vermoë het om in ’n beswyming te gaan en wie se siel dan in die hoër of laer geestelike wêrelde van geeste en demone kan reis. Dié reis deur ’n veranderde staat van bewussyn, stel die sjaman in staat om as bemiddelaar vir sy stam op te tree en selfs verlore siele terug te wen. Gedurende so ’n ritueel is die sjaman met ’n kenmerkende kostuum geklee wat die kernwaarhede van die sjamanisme uitbeeld. Gewoonlik dra hy of sy ook ’n groteske, oorweldigend kleurvolle masker met buitengewone ontwerpe. Dikwels is die sjaman geblinddoek. Dierevelle, pels, vere, bene, klokkies, ’n staf, ’n kroon of ’n hoed is deel van die sjaman se ornamentele drag. Gedurende die ritueel sal die sjaman hard asemhaal, skud, baie sweet en wild dans, ondersteun deur die konstante ritme van tromme.

 

Sidebar