SKEBA, KONINGIN VAN

SKEBA, KONINGIN VAN reis volgens 1 Kon 10:1-13 spesiaal na Israel*3 omdat sy gehoor het van koning Salomo* se groot wysheid en rykdom. Sy bring vir hom kosbare geskenke, en sy vind dat Salomo se wysheid en rykdom selfs die vertellings daaroor oortref.

Dit is onseker waar Skeba was en of die koningin van Arabiese of Afrika*-afkoms is, maar ’n mens kan wel aanvaar dat sy ’n donker vel gehad het. Die geskiedskrywer Josefus* noem haar die koningin van Etiopië en Egipte*. Vandag word sy deur beide Etiopiërs en Moesliems* erken as ’n belangrike figuur. So word die legende vertel dat die koningin van Skeba en Salomo ’n buite-egtelike kind gehad het wat die koninklike huis in Etiopië gevestig het.

Die koningin van Skeba funksioneer aan die een kant in die teks as ’n manier om Salomo se eer te beklemtoon. Aan die ander kant funksioneer sy as ’n voorbeeld van ’n sterk, onafhanklike vroueleier. Hierdie koningin van Afrika bied die geleentheid vir die herwaardering van die rol van ’n formidabele vroueleier van ons eie vasteland.

 

Sidebar