SKEIBRIEF

SKEIBRIEF. By egskeiding*, wat in Ou-Testamentiese* tye in sekere omstandighede toegelaat is, moes die man sy vrou* ’n skeibrief (Hebreeus*: sefer keritut) gee (Deut 24:1). Wat presies die inhoud van die brief was, weet ons nie, waarskynlik ’n kort verklaring soos Hos 2:1: “Sy is nie meer my vrou nie, ek is nie meer haar man nie.” Die hoofdoel van die skeibrief is om die finaliteit van die egskeiding te bevestig. Dis onbekend of die skeibrief enige vergoedingsooreenkoms bevat het, maar volgens sommige kenners is dit ’n sterk moontlikheid. Net die man kon eensydig aan die vrou ’n skeibrief gee, nie andersom nie. Deut 24:1 se “dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het” as grond vir so ’n eensydige skeiding, het sekerlik aanleiding tot misbruik gegee. Bewys van Joodse* ongelukkigheid met dié misbruik is die feit dat, kort voor Jesus* se tyd, die rabbynse skool* van rabbi* Sjammai* “iets onbetaamliks” as huweliksontrou geïnterpreteer het, terwyl die skool van rabbi Hillel* by die letterlike interpretasie van “iets onbetaamliks” gebly het. Jesus se sterk interpretasie van slegs owerspel* as grond vir egskeiding, moet teen die agtergrond van dié debat gesien word.

Vir verdere lees: 1971. Encyclopaedia Judaica, deel 6. Jerusalem: Keter.

 

Sidebar