SKEPPING (GENESIS)

SKEPPING (GENESIS). ’n Christelike benadering tot die oorsprong van die skepping is ’n saak van geloofsbelydenis: Christene gló dat die sigbare dinge ontstaan het uit wat ons nie sien nie (Heb 11:3; vgl Rom 4:17, Op 4:11). Die Christelike geloof* bely dat die God van Israel, die Vader van Jesus Christus, die Skepper is – ’n uitspraak wat trinitaries (as bedoelende die Drie-eenheid*) verstaan moet word (Joh 1:3; 1 Kor 8:6; Kol 1:16; Heb 1:2). Daarmee is ’n duidelike onderskeid tussen Skepper en skepping gemaak. God mag nie verwêreldlik word nie (pankosmisme), en die wêreld mag ook nie vergoddelik word nie (panteïsme*). Die skepping mag ook nie onderwaardeer of verniel word nie (gnostisisme*, spiritualisme*). Die klassieke teologie* aanvaar dat God alles goed geskep het (Gen 1:32). “Goed” beteken egter nie “volmaak” en dat “alles reeds was wat dit kon word en moes word” nie (H Bavinck), maar wel dat alles “vir sy doel bruikbaar was” (JA Heyns). Hoewel die formulering dat God “uit niks” (ex nihilo) geskep het, nie eksplisiet in die Skrif* voorkom nie (vgl die apokriewe* geskrif 2 Makkabeërs 7:28), bied die Skrif wel ondersteuning vir hierdie gedagte (Ps 33:9; Rom 4:17; Heb 11:3). Met “skepping” word die totale heelal – wat was en is en word – bedoel. Dit sluit ook buiteaardse wesens soos die engele in (Kol 1:16). Die Skrif openbaar nie aan ons of daar ander buiteaardse wesens bestaan nie, maar die moontlikheid kan nie uitgesluit word nie (Kyk by: Planete). Die Skrif is veral geïnteresseerd in die feit dát Gód alles geskep het (die wie-vraag), sonder om die hoe-vraag (hóé dit gebeur het) wetenskaplik te probeer beantwoord. Telkens bring die Skrif die skepping ter sprake om die bevrydende almag van God uit te beeld.

Ten opsigte van die doel van die skepping kan die volgende aspekte genoem word: God openbaar sy heerlikheid en mag in sy skepping en Hy verheug Hom daarin; dit dien ook as ruimte vir sy verbondsgemeenskap (Kyk by: Verbondsteologie) met die mens asook as woon- en werkplek vir die mens.

Die sonde* het ’n breuk tussen God en sy skepping geslaan en ’n proses van verval en ontbinding ingelui. Omdat God nie die werk van sy hande laat vaar nie (Ps 138:8), stuur Hy sy Seun* Jesus* Christus* om die bose* magte te oorwin en deur sy Gees* nuwe lewe te skep. Hiermee begin God ’n nuwe bedeling op aarde wat, deur die Laaste Oordeel* heen, eindig in ’n nuwe skepping. Die realisering van die koninkryk* van God is die wese, sin en doel van die wêreldgeskiedenis. (Kyk ook: Protologie en: Kosmologie en kosmogonie).

Vir verdere lees: JJF Durand 1982. Skepping, mens, voorsienigheid. Wegwysers in die dogmatiek. Pretoria: NGKB. A König 1982. Hy kan weer en meer. Gelowig nagedink oor die skepping. Pretoria: NGKB. JH van Wyk 2004. “Skepping en ewolusie: Konkurrensie of kongruensie?” In die Skriflig, 69(2).

 

Sidebar