SKEPPING, HERSKEPPING, NUWE SKEPPING

SKEPPING, HERSKEPPING, NUWE SKEPPING. Skepping* verwys in die Bybel* na God* se skeppingsdaad deur sy woord*, asook na die produk daarvan (Gen 1–2; Heb 11:3). Dit openbaar God se mag* (Ps 19:2). Die doel van die skepping is dat God geëer word (Op 4:11). Sonde* het tot gevolg dat die skepping in plaas van die Skepper aanbid word (Rom 1:23-25).

Skepping en herskepping staan teenoor mekaar soos “oud/nuut” en “Adam*/Christus*”. Adam getuig van die oue en Christus van die nuwe. Sonde, oordeel* en dood* word vervang deur vryspraak* en lewe* (Rom 5:12-21). God herskep die gevalle skepping deur Christus, die ewebeeld van God se wese (2 Kor 5:17; Gal 6:15; Kol 1:14-16; Heb 1:1-3). Die Gees* het ’n herskeppende rol (Tit 3:5-7). ’n Nuwe mensheid wat nasionale, sosiale, kulturele en geslagsverskille te bowe gaan, kom tot stand (1 Kor 12:13; Gal 3:27; Ef 4:4-6; Kol 3:9-10).

Soos die eerste skepping is die herskepping nuut (Ef 2:1-4, 8-10). Die doop* is ’n simbool van God se herskeppende werk (1 Pet 3:18-22). Die hele skepping wag op die finale herskepping wat God gaan bring (Rom 8:19-21), ’n nuwe hemel* en aarde (Op 21). Die herstel van orde in God se wêreld bring die hele skepping in beweging (Ps 98:7-9).

 

Sidebar