SKEPPINGSORDENINGE

SKEPPINGSORDENINGE. Die teorie van die “skeppingsordeninge” (Kyk ook: Natuurreg) gaan daarvan uit dat God bepaalde vaste ordeninge in sy skepping* ingeskep het, wat – ondanks die sondeval* – nog onderhou behoort te word omdat dit uitdrukking gee aan die wil van God en die samelewing teen chaos beskerm.

Hierdie teorie het veral in die 20ste eeu skerp onder die soeklig gekom omdat teoloë in Duitsland en Suid-Afrika dit misbruik het om die ideologieë* van nazïsme* en apartheid* teologies* te regverdig.

Van die vrae wat in hierdie verband gestel is, is: hoeveel skeppingsordeninge moet erken word en watter waarde behoort daaraan geheg te word? Gaan dit oor huwelik*, gesin, arbeid(-sgemeenskap) en staat(-sowerheid), of is ras (W Elert, P Althaus) en volk (HG Stoker) hierby ingesluit? Wat van kerk*- en kultuur*gemeenskap?

Terwyl die Lutherse* tradisie ruimte gelaat het vir skeppingsordeninge, het Calvyn* meer aandag gevra vir die radikale effek van die sonde* op die samelewing. Tog het die motief van skeppingsordeninge by denkers soos A Kuyper* en W Geesink* ’n groot plek ingeneem.

Die motief van ’n “teologie van skeppingsordeninge” is belangrik. Daar is inderdaad bepaalde konstante strukture in God se skepping. Maar die kritiese vrae ontstaan wanneer hierdie ordeninge verabsoluteer en losgemaak word van die kritiek van die evangelie* van Christus* en die Woord* van God; wanneer vergeet word dat strukture in ’n sondebedeling voortdurende reformasie en transformasie benodig. Ons kan die wil van God nie op ’n naïewe manier uit sy skeppingsopenbaring aflees nie, maar vind dit in sy Skrif*openbaring waarvan Jesus* Christus die sentrum is (Heb 1:1-2). Hierdie tipe teologie gee maklik aanleiding tot blinde gehoorsaamheid aan ’n staatsowerheid en aan “die volk” (nasionalisme*/etnosentrisme).

Sommige teoloë verkies om eerder van “onderhoudingsordeninge” (H Thielicke*, W Künneth) of “mandate” (D Bonhoeffer*), selfs van “interimstrukture”, te praat. Daarby moet in ag geneem word dat die samelewing ’n dinamiese karakter vertoon en dat telkens nuwe strukture ontwikkel wat eties-verantwoord hanteer behoort te word.

Vir verdere lees: E Brunner 1939. Das Gebot und die Ordnungen: Entwurf einer protestantisch-theologischen Ethik. Zürich: Zwingli Verlag. J van den Berg 1961. “Scheppingsordinantiën” in FW Grosheide en GP van Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie VI. Kampen: Kok.

 

Sidebar