SKEPTISISME

SKEPTISISME is ’n standpunt in die filosofiese kennisleer wat aanvoer dat ons van geen kennisaanspraak ooit heeltemal seker kan wees nie. Die bekendste, en ernstigste, eksponent van hierdie beskouing is die Skotse filosoof van die 18de eeu, David Hume. Hume aanvaar wel dat ’n mens seker kan wees van kennisoordele oor “relations of ideas”, dit is toutologieë of definisies soos “’n rektor is die hoof van ’n universiteit”. Definisies is immers slegs begripomskrywings, en ’n mens hoef geen beroep op ervaring te doen ten einde vas te stel of hulle “waar” is nie.

Die meeste – en belangrikste – kennisaansprake is egter vir Hume dié aansprake wat, ten einde uit te maak of hulle waar is, ’n beroep op ervaring vereis, bv “die rektor is ’n goeie gholfspeler”. Vir Hume is hierdie soort kennisaansprake oordele oor “matters of fact”. Die belangrikste soort kennisaanspraak in ons kultuur is wetenskaplike aansprake, wat voorgee om algemene wette te formuleer wat gebaseer is op waarnemingsoordele, bv “metale sit uit by verhitting”. Hume se punt is nou dat geen wetenskaplike oordeel ooit absoluut seker kan wees nie, aangesien waarnemings wat ons maak daardie oordeel enige dag in beginsel kan weerlê. Skeptisisme spreek daarom vir Hume die laaste woord.

Vir verdere lees: D Hume 1969. A Treatise of Human Nature. Harmoindsworth: Penguin Books.

 

Sidebar