SKILDERKUNS EN GODSDIENS

SKILDERKUNS EN GODSDIENS. So te sê al die beroemde Westerse kunswerke in alle meduims – beeldhouwerk, skilderkuns op doek, fresko’s, paneelgravure en argitektuur – wat tussen die 14de en 16de eeu geskep is, het ’n verbintenis met die Katolieke Kerk* en godsdiens*. Die beroemdste werke dateer hoofsaaklik uit die Renaissance*, wat geen formele begin of einde gehad het nie, maar min of meer geassosieer word met ’n tydperk wat begin met Dante* se Divine Comedia (ongeveer 1321) en eindig met die afsluiting van die Konsilie van Trente* in 1563.

Onder die beroemdste meesterwerke tel Die deure van die paradys (Ghiberti), Maria Magdalena (Donatelle), die Dawid- en Piéta-beelde (Michelangelo*), Die aankondiging (Fra Angelico), Die laaste oordeel (Michelangelo), Die laaste avondmaal (Leonardo da Vinci*), Die Transfigurasie (Raphael) en die St Petrus-basiliek (Michelangelo). Dat die kuns van die vroeë tot middel Renaissance so ’n sterk Christelike tema gehad het, was nie toevallig nie, maar deur die destydse praktyk meegebring. Fresko’s (en soms houtpanele) is geverf met tempera, die enigste meduim van skilderkuns. Dit was ’n uiters tydsame proses wat groot muuroppervlaktes benodig het. Net die kerk, veral die pous*, kon die muuroppervlaktes, die tyd en geld bied wat hierdie kunsvorm vereis het.

Die tegniek van olieverf op doek op ’n esel, wat sy oorsprong in die Lae Lande gehad het, het dit vir kunstenaars moontlik gemaak om vinniger, goedkoper en op kleiner oppervlaktes te werk. Dit het eers laat in die 15de eeu in Renaissance-Italië bekend geword. Die kleurpalette in tempera was beperk en tegnieke, soos sfumato en chiaroscuro, wat met die bekendstelling van olieverf gewild geword het, kon nie aangewend word nie. Hoewel die uitvinding van olieverf en die gerekte doek mettertyd die kunsmonopolie van die kerk beïnvloed het, het die kerk – met die uitsondering van ’n paar ryk Europese prinse – steeds die hoofbeskermer van kuns gebly, selfs tydens die laat Renaissance.

Gedurende die Middeleeue was die kerk uiters voorskriftelik en rigied oor die inhoud van ’n skildery en selfs die materiaal wat gebruik moes word. Kunstenaars was eerder as vakmanne met bepaalde tegniese vaardighede as skeppende kunstenaars aangewend. Tydens die Renaissance was die kerk voorskriftelik oor die algemene boodskap wat die kunstenaar moes uitbeeld, maar is die skeppende verbeelding van die kunstenaar vertrou vir die manier waarop aan die opdrag gestalte gegee is. Naaktheid*, semi-naaktheid en temas uit die klassieke tydperk het dikwels vervleg geraak met die religieuse boodskap. Die voorbeeld by uitstek is Michelangelo se Die laaste oordeel in die Sistynse kapel. In sommige gevalle, hoewel die opdrag steeds van die kerk gekom het, het die klassieke tema oorheers soos in Raphael se Die skool van Atene in die Vatikaan*. Die boodskap wat deur die kunswerk vergestalt is, was nooit die kunstenaar se persoonlike boodskap nie. Ondanks die vryheid van uitdrukking, was die kunstenaar die draer van die kerk se boodskap.

Die uitsondering op hierdie relatiewe onbevooroordeeldheid van die kerk was die preke van Girolamo Savonarola*, ’n Florentynse priester *2, wat met donker profesieë ’n skrikbewind in die laat-15de eeu gevoer het. Hy het hom sterk uitgespreek teen die ydelheid van die kuns en die wêreldse manier veroordeel waarop die Christelike boodskap deur die kuns in die kerk uitgebeeld is. Sy invloed, hoewel tydelik, was so sterk dat dit aanleiding gegee het tot die “Bonfire of the Vanities” op 7 Februarie 1497 waartydens baie gelowiges hulle wêreldse besittings verbrand het, insluitend Botticelli, wat glo selfs sy eie kunswerke onder Savonarola se invloed vernietig het.

Vrees vir die invloed van die Reformasie* het tot gevolg gehad dat die Konsilie van Trente* (die Katolieke Kerk se reaksie op die Reformasie) tydens sy finale sitting in 1563 besluit het dat slegs kunswerke wat “Bybels” is voortaan deur die kerk ondersteun sou word. Bestaande werke is nie verwyder nie, maar sommige, soos Michelangelo se Die laaste oordeel, is wel effens aangepas.

Dit was eers met die ontwikkeling van ’n onafhanklike kunsmark en die stigting van die avant garde-bewegings in Frankryk en Engeland in die 19de eeu dat die kerk en godsdienstige temas finaal hulle houvas op die kuns begin verloor het. Vir die eerste keer kon kunstenaars vrye uitdrukking aan hulle omgewing en ervarings gee (soos dit ook uitdrukking gevind in die Impressionisme en die Ekspressionisme). Kunswerk is nou op meriete, eerder as op die onderwerp daarvan, beoordeel. Waar die vroeë kunswerke selfs nie eens tydens die laat-Renaissance ’n volledig-persoonlike stempel kon dra nie, het die avant garde-beweging ruimte geskep vir die uitdrukking van ’n intieme en persoonlike ervaring. Dit was egter nie die einde van godsdiens as ’n tema in die skilderkuns nie, maar die begin van die uitdrukking daarvan as ’n persoonlike belewenis – die kunstenaar was nie meer die boodskapper van die kerk nie.

In die Lae Lande kan veral Rembrandt* se skilderye van Bybelse onderwerpe in sy later jare in hierdie verband uitgesonder word – persoonlik-geïnterpreteerde gestaltes van die feilbaarheid van die mens. Ander beroemde skilders wat godsdiens as tema aangewend het om hulle persoonlike belydenis te verbeeld, is Dürer, Caravaggio, Rubens en veel later Dali.

Danksy die werk van Nikodim Kondakov (1870–1925) is die Christelike ikonografie* soos uitgebeeld in Russiese en Griekse ikone, meestal in opdrag van die Ortodokse Kerk*, in ere herstel. By die Eerste Kongres van Bisantynse Studies in 1931 is die Christelike ikone, waarvan die eerste in 988 nC bekend geword het, erken as simbole wat aanbidding gevoed het.

In 21ste-eeuse kuns is godsdiens steeds ’n tema, meestal as uitdrukking van geloof, maar soms ook om die Christelike godsdiens te banaliseer. In Suid-Afrika is Jackson Hlungwani, Domisiatis, Claerhout*, Cilliers-Barnard* en Sumner onder die kunstenaars in wie se werk godsdiens ’n positiewe plek inneem. Werk met’n sterk godsdienstige inslag is ook as struggle-kuns aangewend, met Nlengethwa en Ka Mkame wat onder die voorste kunstenaars tel. Wim Botha is ’n kunstenaar wat in die eerste dekade van die 21ste eeu in Suid-Afrika opspraak en weerstand verwek het met sy beeldhouwerk van ’n gekruisigde “Jesus” met bokpote.

Vir verdere lees: Paul Johnson 2000. The Renaissance. Londen: Weidenfeld and Nicolson.

 

Sidebar